GOD MET ONS
 
"'…en hulle sal Hom Immanuel noem.' Die naam beteken God by ons" (Matt. 1:23 NV).
Kersfees herinner ons daaraan dat God by ons is om ons gebrekkige liefde te suiwer. Kersfees leer ons die waarheid van selfopofferende liefde. Christus het na Sy eiendom gekom en Sy eie mense wou Hom nie aanvaar nie. Desnieteenstaande het Hy aan almal wat Hom aanvaar het die reg gegee om kinders van God te word. Daar was vir Hom geen plek in die herberg nie. Nogtans waarborg Hy 'n plek in die huis van Sy Vader vir elkeen wat Hom liefhet en volg.
Hy was verag en deur die mense verlaat. Tog nooi Hy almal wat vermoeid en belas is om by Hom rus te kom vind. Hy het die vermoë gehad om van die kruis af te kom en almal uit te delg wat Hom bespot het. Maar Hy sterf aan die kruis ter wille van my en jou sonde. Die haatdraende wêreld gun Hom nie Sy lewe nie, maar Hy belowe met hemelse liefde en genade die ewige lewe aan almal wat in Hom glo. Dit is die taal van Immanuel, God by ons.
Daar is soveel liefdeloosheid en haat in die wêreld vandag. Dit vertroebel die verhouding tussen mens en God, en mens en mens. Maar Kersfees kom sê telkens vir ons dat die liefde sal seëvier. Omdat God liefde is, het Hy Sy Seun gestuur. As God ons só liefhet, moet ons ook mekaar liefhê. Kom ons bely opnuut ons liefde hierdie Kersfees: aan God, aan ons ouers, aan ons lewensmaat en aan ons medemens. Dán word dit waarlik 'n Christusfees.
Dankie, God van liefde, dat U toegelaat het dat U liefde in Jesus Christus gestalte vind. Gee aan ons meer liefde deur die werk van die Heilige Gees.
Ons liefde vir God word getoets deur die vraag of ons Hóm of Sy gawes soek - Ralph W Sockman. [Uit: Elke Môre Nuut, Solly Ozrovech, CUM, 1999].

Indeks     Index